Die Woud Wedding – Chrisna & Phillip

By April 23, 2019Wedding

Die Woud.

~’n Afrikaanse Hoofstuk.

Die Ontmoeting:

Ek en Phillip het mekaar einde Februarie ontmoet, 6 April het hy my uitgevra en 27 Desember het hy my gevra om sy vrou te word. Hy en my ma het saam gekonkel terwyl ek niks vermoed het nie. Ons gesin het die dag besluit om almal wit aan te trek, n piekniekmandjie te pak en die sonsondergang oor die Vrystaatse vlaktes te geniet op my ouers se plaas. Min weet ek dat Phillip my om die hand gaan vra!  Hy en my Ma het alles haarfyn beplan.

Die geduldige man:

Ek was oorspronklik aangetrokke tot my man se vermoeë om my te laat skaterlag tot die trane loop.  Vandag waardeer ek sy sagtheid, deernis en geduld waarmee hy my hanteer.

Die spontane vrou:

My Chrisi-pop se onmenslike mooi aura wat sy uitstraal het my totaal en al tot haar aangetrek.  Dit is so heerlik om saam met haar te wees en sy is altyd so gelukkig en spontaan.

Die Rok:

My Ma het eendag vir my gesê, “Sussie, kom ons kyk trourokke as jy die vakansie Vrystaat toe kom.”  Ek het op ‘n bruidswinkel se webtuiste na rokke gaan kyk en dadelik verlief geraak op n rok. Ek het die rok gaan “stalk” op pinterest en daardie vakansie toe ek die rok gaan pas, toe pas hy perfek! Die rok word toe bestel en 5 maande later, toe die rok uiteindelik in Suid-Afrika arriveer, is die rok hopeloos te groot en heeltemal die verkeerde kleur! Dit was 2 weke voor die troue en almal het namens my gestress.  Ek was egter rustig! Hoe opwindend?! Shopping so kort voor jou troue! Ek het n paar afsprake gaan maak, en op die tweede dag van my soektoeg by Cindy Bam opgeëindig.  Daar hang my rok! Amper presies soos my oorspronklike rok, net nog mooier!  Die rok het my boonop soos ‘n handskoen gepas!

Haarstyl:

Sanmarie Botha se talent het my droom vir die perfekste haarstyl laat waar word.  Ek is versot op die haarstyle in die rolprent, “Gone with the Wind.” en wou graag my troue se styl daar by laat in val.  My hare het heel dag gehou en mooi gelyk en a.g.v Sanmarie se handewerk was ek glad nie bekommerd dat dit sal uitsak nie.

 

Formele Troudag:

Ons troue was formeel. Ons wou n regte ouwêreldse, spoggerige troue hê, waarop almal hul blinkste skoene kon afgestof. Ons wou gehad hê ons gaste moet mooi voel en die aand se mooi geniet.  Om vir ‘n dag in ‘n ander wêreld in te stap en jou mooiste uitrusting te kan aantrek. Baie troues is deesdae baie informeel en mense het nie so gereeld die geleentheid om spoggerig aan te trek nie en dus wou ons vir ons gaste die geleentheid gee daarvoor. Ons troue was kristal, Swart en Wit. Wat anders pas tog beter by n “black tie event” as swart en wit? Ek het my hele lewe gedroom om eendag onder bome te trou en laaaaang tafels te hê! Toe ek Die Woud sien, toe weet ek net; Dis waar ons gaan trou! Dit was die eerste en laaste venue wat ons gaan kyk het.

 

Spesiale oomblik:

Die oomblik wanneer jy mekaar vir die eerste keer sien is onbeskryflik mooi en intiem.  Om mekaar se hande te vat voor jou naaste vriende en familie wanneer die rustigheid oor jou neer daal en jy besef – die oomblik en person vir wie jy jou lewe lank gewag het, is hier.

Die Fotograaf:

Landi Groenewald van Organictales het so baie moeite ingesit.  Sy het ure se beplanning aan ons tydlyn verleen en ek kon altyd op haar knoppie druk as ek raad nodig gehad het.  Sy het soveel geduld gehad en ons op ons gemaak laat voel, wat vir ons baie belangrik was.

As ons iets kon verander:

Hou by jou program en vergeet van die gaste wat laat opdaag.  Dis jou dag en onnodig om vir hulle koms te wag.  Dit sit jou hele program agter en veroorsaak ‘n groot gejaag.  Doen jou ding en bogger die res!  Moenie dat iemand jou grootste en spesiaalste dag bederf nie, net jy kan dit toelaat.

Advies:

Geniet elke oomblik!  Mens beplan soveel maande aan die groot dag en in ‘n oogwink is dit alles verby!  Kry ‘n goeie fotograaf en videograaf – die visuele oomblikke is als wat jy oor hou van jou spesiale dag.  Belangrikste van als – hou by jou tydskedule!

Kalahari DJ:

Phillip is versot op musiek! Van toeka af vertel hy my van die Kalahari DJ wat die gehoor so goed kan lees.  Musiek maak of breek beslis jou troue!  Jy kan nie net ‘n playlist aanmekaar sit en laat waai nie. ‘n Goeie DJ het die talent en vermoeë om te sien hoe die gaste reageer en wat om te speel om almal op hul tone en op die dansvloer en gelukkig te hou.
Daleen word toe ingevoer al die pad van Upington af! En glo my, die partytjie was vuur en vlam tot op die laaste nippertjie!

Gedig:

Dit was begin Februarie toe my hart terug roep Wes-Kaap toe. 
Ek het al vergeet hoeveel beter wyn in die Boland proe.
Een somersaand bevind ek my op my vriendin se plaas, 
my hart was weer rustig en onstlae van die geraas. 
Die buurman nooi ons toe na ‘n plaasbraai by die dam. 
Die samesyn was sonskyn en ‘n vuurtjie vat toe vlam.
 
Aanvanklik het ek die vuur probeer vermy, 
want die seun van die plaas was nogal arrogant volgens my. 
Die seun van die plaas het ‘n boodskap op Facebook gestuur. 
Ek het steeds niks daarvan gemaak nie, 
maar die geselskap was ‘n plesier. 

Kort daarna was ek oppad na die Vrystaat. 
Twee vriende het getrou. 
Ek het gedink ek gaan saam met die man wat my hart vir jare vas kon hou.
Min wetend dat hy op die nippertjie sou laat weet hy kan dit nie maak. 
Die seun van die plaas, het my toe by die lughawe kom haal.
Nooit het ek geweet dat ek eendag sy vrou sou raak. 
Hy het my hart gevat en hom stywer vasgehou, 
en kort voor lank, op my ouers se plaas, het hy my gevra om met hom te trou.

~C. Mouton Burger

 

Diensverskaffers:

Liewe Diensverskaffers.  Vreeslik baie dankie vir julle elkeen se bydrae tot Phillip en Chrisna se huweliksbevestiging.  Sonder julle kennis en talent sou ek nie hierdie mooi foto’s kon vasvang nie.  Daar sal binnekort ‘n webskakel beskikbaar gestel word om foto’s af te laai vir gebruik.  Vir nou, deel asb hierdie blog skakel op sosiale media tot die aflaai skakel beskikbaar is.  Liefde, Landi.

Fotograaf: Organictales

Rok: Cindy Bam

Venue: Die Woud

Grimering: Mariette Conradie

Hare: Sanmarie Botha

Videograaf: Alleta Francina

Troukoek:  Birdcage

Skryfbehoeftes:  Rob Signs

Tafeldoek:  Bloomprints

Blomme: Marlize Mouton, Maria Delgardo en Chrisna Mouton Burger

Dekor: Chrisna Mouton Burger

Papier blomme tydens Seremonie: Moody Affair

Blomme van onthaal, handruikers en blommekranse: Maria Delgardo en Marlize Mouyon

Blommemeisies se rokke: Hezanne Viljoen

DJ: Daleen Burger

Spyseniers: Die Woud

One Comment

Leave a Reply

css.php